AREND VAN DIE OERWOUD REEKS
Dit was ook ’n gewilde klein boekie reeks wat aanvanklik ook op sy eie verskyn het. Arend het ook later ’n dubbelboek gedeel met Tanya die Vegter.
Arend was ’n fris geboude jong man, wat ’n soort Tarzan bestaan in ’n oervallei of oerwêreld gevoer het. Hy het ’n vel masker gedra wat sy oë bedek het, waarskynlik om sy identiteit te beskerm en om vrees by die primitiewes in te boesem. Arend se wapens was sy buitengewone krag, sy boog vaardigheid en sy ervarenheid met ’n mes. Die Indiaanse vegters byltjie maak ook soms ’n verskyning in die verhale. Die oermense het wapens van hulle tyd gedra, naamlik klip messe, spiese en ook pyl en boë. Arend het natuurlik ook ’n meisie gehad wat sy avonture met hom gedeel het. Haar naam was Elize. Haar Westerse naam dui klaarblyklik daarop dat sy van die buite wêreld af in gekom het, om die oerwêreld met Arend te deel.
Al die oermense het “oer” name gehad. Hy het ook nog ’n hond met die naam “Vegter” gehad, wat sommige avonture met hom gedeel het. Die verhale was meestal eietyds aan wat alles in ’n oervallei kan verkeerd loop. Daar was stamgevegte, bose toordokters , hekse en oerdiere wat beveg moes word. Arend was die man wat vrede moes bewaar. Die verhale was nie sleg nie, maar jy kon net soveel verhale oor oermense skryf en dan het dit ’n bietjie afgesaag begin raak. So ook het die fotografie en kleredrag van die oermense nie altyd oortuig nie, (deur Koos Papenfus).
82. Arend Van Die Oerwoud - Verraad